STORIEBOEKE MAAK ’N VERSKIL!
Hoekom moet kinders boeke lees? En hoekom moet ek vir my kind stories voorlees? Hoekom moet ek swaarverdiende geld op boeke uitgee? En dit op ’n storieboek? Volgens Christien Neser, leesterapeut en skrywer van kinder- en jeugboeke, is daar vele redes hiervoor:
- In Brittanje word gepraat van The home literacy event, wat ons slaaptydstories noem. Kinders vir wie daar van kleins af voorgelees word, uitpresteer hul maats vir wie nie voorgelees word nie. Kinders wat tuis saam met hul ouers lees, luister beter, konsentreer langer en presteer beter.
- Ouers wat vir hul kinders in die voorskoolse jare elke dag ’n storie lees, stuur hul kind graad 1 toe met een miljoen meer woorde as diegene vir wie nooit stories gelees word nie (studie Ohio-Universiteit, 2019). Woordeskat is een van die mees bepalende faktore vir akademiese sukses (prof. Maryanne Wolf, Tufts-Universiteit).
- ’n Slaaptydstorie is belangrik as die kind deur die dag voor ’n skerm was, soos televisie, telefoon of rekenaar. Hoekom? Die skerms aktiveer die frontale lobbe van die brein. Voorlees kalmeer die frontale lobbe, wat ook die res van die brein gereed maak vir slaap. Die slaaphormone word dan afgeskei wat REM (droomslaap) vinniger laat inskop. Tydens slaap groei die kind en ontwikkel nuwe sinapse in die brein. Goeie kwaliteit slaap is noodsaaklik vir breinontwikkeling en algemene gesondheid. ’n Voorgeleesde slaaptydstorie vir enige kind, van 3 tot 13, is dus soos ’n natuurlike slaappil en breinaktiveerder.
- ’n Lekker boek is vir die ouer kind uiters noodsaaklik. Dit kan selfs die brein van skermverslawing red. Wanneer ’n mens ’n rekenaarspeletjie speel, word die linkerbrein volledig gestimuleer. Eintlik oorgestimuleer. Daar moet vinnige besluite geneem word, ’n strategie uitgewerk word. Maar die regterbrein word afgeskeep. En dis hier waar luistervaardighede en empatie gesetel is. As die regterbrein nie gebruik word nie, sterf die sinapse af. Maak dit dus ’n reël: vir elke halfuur se rekenaarspeletjies, moet die kind ’n bladsy lees en gou ’n bietjie oefening doen. Dit sal die regterbrein weer aktiveer.
- ’n Lekker boek kan ook jou wiskundepunte verbeter. Hoe so? Die Ohio-Staatsuniversiteit het in 2015 ’n reusestudie gedoen oor leesbegrip en wiskundepunte. Daar is ’n direkte verband! Hoe beter die kind lees en verstaan, hoe beter sy wiskundepunte.
- ’n Lekker boek voordat jy gaan slaap, kan jou toetspunt die volgende dag verbeter. Dit is die bevinding van prof. Gregory Burns en sy span van die Emory-Universiteit, Atlanta. In ’n groot studie is studente in twee groepe verdeel: Groep A het studeer totdat hulle gaan slaap het. Groep B moes ’n lekkerleesboek lees voor slaaptyd. Groep B het deur die bank beter presteer. Redes: dieper slaap en minder stres laat die brein beter prosesseer, sodat die studiemateriaal makliker opgeroep word.
- Laastens, ’n storieboek is wonderlik vir ’n kind se geestesgesondheid. Die keuse van boeke is dus uiters belangrik. Die kind assosieer sterk met die held van ’n storie. As hul held dan ’n struikelblok oorwin, is dit so goed asof hulle self dit gedoen het. Kinders wat lees, is kinders wat hulle probleme so lees-lees self uitsorteer.