TOLHUIS OP MONTAGUPAS

, ,

Die historiese Tolhuis op die Montagupas net buite George is in 1847 gebou. Die padingeneur van die pas self was Henry Fancourt White. 250 gevangenes is opgelei as padbouers en klipkappers en dit het drie jaar geneem om die pas te bou teen ’n koste van 35 000 pond. Dit is een van die min passe wat tot historiese erfenis verklaar is in 1979.

Die Tolhuis self was tot in 1918 toe tolgeld opgehef is die tuiste van verskeie Tolmeesters en hul gesinne. Daarna is dit vir verskeie gebruike aangewend onder andere as brandwagtershuis en ’n privaat woonhuis, maar het later in onbruik verval en totaal verwaarloos geraak. Die Vriende van die Tolhuis het in 2008 ontstaan as ’n NPO (Non-profit Organisation) en met die hulp van die gemeenskap is dit in 2011 gerestoureer en as mini-museum en koffiewinkel gebruik. Kosbare antieke items en historiese meubels het in die slag gebly toe ’n veldbrand dit in 2018 vernietig het. Die Vriende het egter ingespring en die Tolhuis is weer opgebou en huisves tans kosbare musiekinstrumente en ander artekfakte. Dit is ’n onbytstop vir Pelgrims wat die Pelgrimspad van Hoop stap tussen Uniondale en Mosselbaai. Die Tolhuis word ook naweke en publieke vakansiedae oopgestel vir heerlike koffie en pannekoek. Dit kan as unieke venue gebruik word en is ook op afspraak oop vir toere, stappers en kultuurgroepe. Daar word ook gereeld intieme musiekkonserte aangebied. ’n Ossewaherberg en kwekery word beplan en die tuin kry tans aandag. Enige skenking van plante en ou tuingereedskap is baie welkom. Kontak Gerda Stols 083 772 8252 vir besprekings.

Die Tolhuis circa 1880 en soos dit tans daar uitsien.