WAAR DIE HART VAN VOL IS, LOOP DIE MOND VAN OOR
Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die Musefees tydens September was vol … eintlik propvol op alle vlakke. Vol dorp, vol strate, vol restaurante, vol gallerye, vol sale, vol harte.
Wanneer ’n mens besluit om ’n fees aan te pak, is daar talle onvoorspelbare elemente: Eskom (!), die weer, gaan mense opdaag of nie, sal al die kunstenaars, skrywers en uitstallers die goeie gesondheid behou en dan natuurlik allerhande klein, maar onverwagte jakkalsies.
As ek terugkyk oor die fees, was die oorheersende gedagte egter een van hande vat, van positief saamwerk, van gedeelde entoesiasme en opwinding oor wat voorlê, van ongelooflike aanmoediging regdeur die voorbereidingsprosesse. Mense wat op die nippertjie bereid was om te help en vir ons ’n paar klippies uit die pad te rol.
Die fees sou nie moontlik gewees het sonder ons borge nie, of dit finansiële bydraes of baniere en programme was nie. Die ondersteuning van Mosselbaai Toerisme en Mosselbaai Munisipaliteit was ook van onskatbare waarde. Ons restaurante, die kerke in die dorp en privaat wonings was almal bereid om deel van die fees te raak en geleenthede by hulle aan te bied. Aan jullle almal en elkeen wat op enige wyse, hoe klein ook al, tot die sukses van die Musefees bygedra het, hartlike dank. Kyk gerus op bladsy 10-11 na ’n visuele oorsig van die fees.