REIS NA DIE ONBEKENDE

,

We travel not to escape life, but for life not to escape us.

Baie mense het vervaard rondgekyk toe ek genoem het dat ek en my suster na Armenië, Georgië en Azerbeidjan gaan reis. As hulle nie dadelik ’n atlas of tannie Google nader getrek het nie, was die volgende reaksie dat hulle aan moontlike gevaar gedink het as gevolg van die oorlog wat tans tussen Rusland en die Oekraïne woed.

Maar wat ’n wonderlike verrassing het nie op ons gewag nie! Die pragtige natuurskoon in al drie lande is heel uiteenlopend en wissel van amperwoestyn na gletsers in die berge van Georgië, van landerye vol koring na digte woude teen die berghange. Armenië was seker die grootste verrassing. Hierdie land sonder ’n kuslyn, ingedruk tussen al die lande, is aan ons bekend gestel deur ’n welbelese, trotse gids wat alles van Armenië weet. Haar woorde, maar ook die woorde van die ander twee lande se gidse, was telkemale: Since independence. Die groot ommekeer in al drie lande was toe hulle na 70 jaar van oorheersing deur die eens magtige USSR onafhanklik geword het. Die trots in die mense se stemme vir alles wat hulle sedertdien bereik het, is merkbaar.

Armenië is deur die eeue deur verskeie magtige lande van die ooste en die weste ingeval omdat hulle op die deurgang na Europa lê. Nadat hulle onafhanklik van die USSR geword het, het hulle vir vyf jaar geen elektiese krag gehad nie. Ons gids was ’n klein dogtertjie in ’n tipiese Oos-blok-woonstelgebou en het vertel hoe die mense saamgestaan het tydens die yskoue winters en mekaar ondersteun het met kos en verhitting in amper onmoontlike omstandighede. Nou loop die geel gaspypleidings orals bogronds tot in klein dorpies en kan die ekonomie gedy. Dis gas kom uit Rusland en dus kan die regering nie amptelik hul rug op Rusland draai nie. Wat die gewone mense van al drie lande oor die Russiese inval dink, is natuurlik ’n ander saak.

Armenië is veral trots op hul kerke. Hulle kerke, soos ook in die ander lande onder die beheer van die USSR, was gebruik vir stalle, vir die berg van veevoer of is afgebreek of  beskadig. Nou is dit met passievolle genoegdoening herbou.