WAAROM DIE MUSEFEES?
As organiseerders van die Musefees in Groot-Brakrivier poog ons om die ekonomiese groei van die dorp te stimuleer, ’n gulde geleentheid vir die jeug te skep om hul talente uit te leef as sangers, skilders of skrywers en ’n platform vir alle ander kunstenaars te bied om hul gawes te deel en só almal se muses te laat ontvou. Die veelkleurige Musefeesroos weerspieël ons aanslag met die parmantige Muse-lin * kompetisie vir restaurante, die Muse vir Mans, die rondreisende en fassinerende Tekstieluitstalling van die SA Kwiltersgilde, ’n Beeldhoupark en Kuns deur Kinders wat aanklank vind by ons tema vir 2023, naamlik Nurture Nature. Vir musiekliefhebbers, bied ons Anna Davel met Daarom skryf ek, Petronel Baard en Henco Bester met sy Jazz-band van 9 Graad 9-leerders wat Golden Oldies sal opvoer, die Suid-Kaap Kinderkoor, Yin Xiong met haar Sound Immersion en Linger Longer with Anna Davel aan. Vir die kinders gee Fleur van Eeden Streicher ’n demo oor haar werk as “stunt girl” in internasionale rolprente en Fourie Ackermann verf ’n muur saam met die kinders by die Youth Cafe waar daar ook ’n modeskou plaasvind. Die kreatiewe werkswinkels – van poësie tot piouter, van blomme uit lap tot blomkleursels en blomme as medisyne – kleur soos die ink in die Museroos die res van die program in.
DIE MUSEFEES SE ROOS
As simbool van die Musefees beeld die “Happy Roses” – roomwit rose wat met ink gekleur word om hierdie unieke roosblare te skep – die veelkleurige hart van die Musefees perfek uit. Dit dien as inspirasie vir almal se muses om hul leefwêreld mee in te kleur en hul kreatiwiteit te laat blom.