WEES BEWUS
Ek wil glo dat ek nie die enigste persoon is wat aanvoel dat die jaareinde my bekruip het nie. Daar is al vir ‘n geruime tyd vir my nie sin in die konsep van ‘n “bucket list” nie. Ek het geleer dat elke dag se sinvolle leef, bewustelike omgaan met ander en om myself in ʼn vredeliewende tyd en spasie te
bevind, goed genoeg is vir my.
Oordenking oor die afgelope jaar is sekerlik belangrik, solank ons nie te lank stilstaan by dit wat skipbreuk gely het nie, verliese, prestasies en die eie ego wat soms moeilik in toom gehou word. Al die bostaande is van belang sodat toekomsplanne hersien en bedink kan word, maar kom ons hou ons oog op die hede.
Dit is tyd vir geesdriftig raak oor die vakansieseisoen wat op hande is, geliefdes, kleinkinders, vriende en vakansiegangers wat entoesiasties aanmeld vir die jaarlikse vakansie by die see.
Plaaslike inwoners moet leer om die son, strand en see met ander te deel. Om bietjie meer verdraagsaam te wees teenoor gesondheidsbewustes se onbedagsame hardloop in die pad, fietsryers wat langs mekaar ry en vergeet om veiligheid eerste te stel, lang rye motors en toue, energie en vibrasies waaraan jy nie gewoond is nie. Dit alles begin waarskynlik by gesindheid en ingesteldheid. Hoe kan ek meer toegeeflik wees, wat dra ek uit wanneer ek oorreageer, maak dit my noodwendig minder deur die minste te wees vir vandag… vir nou?
Niks hiervan kom maklik nie, dit is oefen en inoefen. Doelbewus werk aan my opsies. Die resultate van ʼn vriendelike glimlag, hand wat wuif, opbouende geselskap, ondersteunende dade, liefde en ruimte vir mekaar, gaan ʼn ver pad.
Kom ons kyk of ons onsself hierdie seisoen kan oortref!
Kom ons wees die verskil!