BLINK TROEBADOER

Ek het ’n “Goth boyfriend” wat ’n sagte liedjie sing en my balkon toe lok. Sy oë is intens.

“Voëls kyk is ’n ander manier van gedigte skryf,” het ek iewers in 2015 of so beweer. Dit was toe ek nog in die stad gewoon het; die bome in die tuin was papierbas en doringbome, die voëls was houtkappers, kwêvoëls en hadidas. Natuurlik ook geelvinke, mossies, duiwe en ’n verskeidenheid “little brown jobs”. Oor hulle kon ek skryf – hulle kleure, gewoontes, hulle vrolikheid. Maar ’n gotiese heer was daar nie!

Voëlkenner is ek nie, waarnemer wel. Want digters staar by vensters uit as deel van ons daaglikse taak – sodat gedagtes kan pasmaats soek in die eter. Sodat woorde en voëlname lêplek kan kry in klankritme en beeldbou. Op dié manier daag daar dan soms ’n troebadoer op in ’n donker pak. Mooier as sy naam, is hy.Dicrurus adsimilis, die mikstertbyevanger (fork-tailed drongo). Hy met die regop houding en dieprooi oë, hy wat verskeie roepklanke uiter en selfs soogdiergeluide kan namaak. Hy is die een wat kies om my te roep met ’n sagmoedige ghloep-geluidjie diep uit sy keel. Altyd dieselfde. Ek het hom al hard en kras hoor skree op ander voëls, soos die vlieëvangers wat sy gebied betree. ’n Mens moet seker versigtig wees om menslike emosies aan besoekende voëltjies toe te skryf, maar vir hom gooi ek nie kos op die grond nie. Hy kry ’n happie omhoog, met ’n wye boog in die lug, wat hy sierlik vang, soos ’n getoorde ridder uit ’n sprokie.

Intussen bedink ons gedigte terwyl ons by vensters uitstaar en reageer wanneer ’n waardige alleenloper aandag soek.

Aan die hand van

Voëls kyk is ’n ander manier van gedigte skryf

mymer jy langs broodkrummels en piesangs

in die skemer met jou beker tee heuningsoet

in jou hand – neem nou maar

die kuifkophoutkapper of druppelvlek

wat bont gespat in rooi en geel en swart

uit Pollock se skilderdoek stap

en wat is Goya anders

as die mikstertbyevanger, die sirkuspapegaai Lautrec,

kyk hoe eggo kardinaalvinke Monet se papawerlande,

die kleurblokke uit Warhol se hande, sien Hopper se meeulose

strande teken kwatryne oor halfweghuise met dun gordyne

Kuns kyk is ’n manier van gedigte nader roep

Elke skildery is ’n spieël

en met jou dagboek verberg in die versreëls

van ’n sonnet, soek jy nóg refleksies aan die hand

van verwers en geveerdes

Voëls reis lig

van boom tot boom

of van skets tot see en meer

skryf jy laas nag in ’n droom

toe twee Pollocks tjirrr

in die Pierneef-ets

René Bohnen

René Bohnen sal skryfwerkswinkels aanbied tydens die Musefees in September 2023. Datums sal aangekondig word in The Post.