DIE KUNS VAN VERVALDATUMS
Onwillekeurig wonder ek oor vervaldatums. Natuurlik verstaan ons almal die konsep in die konteks van kos, medikasie, kwotasies en waarborge. Waarom my gedagtegang nou weer so anders loop, hou seker maar verband met wanneer ek gekonfronteer word met wat was en wat nou is. Vergun my om te verduidelik. Tydens ’n onlangse besoek van my peetkind leun ek vorentoe om sy gesprek met sy vriendin te probeer volg. Die frons op my gesig gee dadelik vir hom die geleentheid om my in die prentjie te bring sonder dat ek hoef te vra. Terselfdertyd kry ek seker ’n bietjie van my eie medisyne. Dit is sy beurt om vir my te preek en nie ek vir hom nie. Vinnig besef ek dat dit nie net die tegnologie van onder andere sy horlosie is wat distansie, hartklop en kalorieë meet en dat hy my soms aanpraat is wat my verbouereerd laat voel nie. Daarmee saam gaan vra vir advies van AI (Artificial Intelligence), die iPad, knoppie hier druk, daar gaan haal, neerplaas, vinger gebruik, eers groter dan kleiner en siedaar! ’n Kunswerk. Vergete is die teken op papier wat girts-girts onder die potlood se ligter en swaarder druk op die bladsy. Hoe versoen ons wat was met waar ons nou is?
Verder kom ek tot dié insig: Gaan ek weet wanneer om met grasie terug te staan nadat ’n mens vir verskeie seisoene jou saailinge geplant, vertroetel en geoes het? Opofferings gemaak het vir die sake waarin jy glo deur tyd en energie daaraan te bestee? Wanneer gee ’n mens die leisels oor aan ’n ander om verder uit te bou en te verbou? Deur te lank te glo jy is die enigste een wat aan die stuur van sake moet staan versus met grasie terug te staan en ander toe te laat om op jou fondasie nuwe hoekstene en lugkastele te bou. Sal jy weet wanneer jy jou vervaldatum bereik het alvorens jy meer afbreek begin doen deur te lank vas te hou in plaas daarvan dat jy jou vrymaak en ander bemagtig met nuwe kreatiewe idees en metodes? Ek dink mense het ook ’n vervaldatum in ’n sekere konteks. Die kuns is: Het jy die insig om te weet wanneer jy jou vervaldatum bereik het?