DIE MUSEFEES VIR GEMEENSKAPSBOU EN -GROEI

, , ,

Wanneer daar ’n geleentheid plaasvind in ’n dorp kom mense van ander plekke om dit by te woon of meer te leer oor die dorp. Plaaslike inwoners kom byeen vir al die georganiseerde aktiwiteite. Die totale sakesektor vind dus baat by “meer voete en oop harte” – kettingwinkels, besighede, entrepreneurs, restaurante, vulstasies. Die waarde van so ’n feestelike geleentheid moet dus nooit onderskat word nie.

“Hoekom doen julle die Musefees?” is iets wat mense vir ons as organiseerders vra. Die vinnige antwoord is: Ons glo regtig dit maak ’n verskil in ons gemeenskap. Ons bly in Groot-Brakrivier waar ons graag ’n gesonde, produktiewe lewenskwaliteit wil volhou saam met ander positiewe mense in die omgewing. Ons is veral deur die volgende gemotiveer:

  • Een van die hoofdoelstellings van die Musefees is om ekonomiese groei te bewerkstellig deur die besighede in die dorp te betrek buite die seisoen en wanneer besighede kan doen met ’n ekstra ekonomiese inspuiting.
  • Musikale trekpleisters soos Anna Davel, Jaconell Mouton, Petronal Baard, Henco Bester en Yin Xiong het die program ’n hupstoot gegee. Die Musefees wou graag die kunstenaars ondersteun en ook aan hulle nuwe blootstelling gee.
  • Ter ondersteuning van Marita van der Vyver het haar nuwe boek, Laaste Kans, se voorblad op die Musefees se program verskyn en die plaaslike boekbekendstelling is op die program en die webwerf geadverteer. Verder is ’n gratis artikel en foto van die boek in The Post (September) geplaas.
  • Hierdie jaar het ons vir die eerste keer die Muse-lin * projek geloots: Vyftien plaaslike restaurante het aan die Muse-lin *deelgeneem wat deurgaans gratis publisiteit ontvang het, onder andere in 10 000 uitgawes van The Post; op www.musefees.co.za (ons webwerf) en dan natuurlik in sosiale media, op die Muse se Facebook-blad met ’n versoek aan lesers om die restaurante te ondersteun (met direkte skakels na al die restaurante). Hier is kort beskrywings deur Scott Thomson (een van die beoordelaars) van al die disse geplaas. Al hierdie restaurante kon hulle “signature dishes” tydens die Musefees aan feesgangers voorsit.
  • Plaaslike kunstenaars is betrek om hul kunswerke ten toon te stel en te verkoop, en ander is genader om werkswinkels aan te bied waaruit hulle ’n inkomste kon genereer.
  • Ons hoop om werkskepping meer uit te bou in die toekoms. Hierdie jaar is werk gebied aan ’n pensionaris wat vir twee dae as hekwag by Westbank Manor opgetree het. ’n Bakster is betrek deurdat sy pannekoeke kon verkoop (Westbank Manor) en ’n dame het jaffles tydens die Kinderkoor se aanbieding by die NG Kerk verkoop. Sodoende kon hulle albei ekstra inkomste genereer.
  • Plaaslike besighede is deurentyd ondersteun.

ONS VAT JAARLIKS HANDE MET BESTAANDE ROLSPELERS IN GROOT-BRAK EN ELDERS:

  • Op ’n historiese vlak, is die Groot-Brak Museum betrek (artikel in The Post, Augustus 2023) deur voorstelle te maak en hulp te verleen om stappe na historiese geboue, stappe na die 1924-Hidrokragstasie en toere deur die Museum moontlik te maak. Alle inkomste hieruit gaan na die Museum.
  • Great Brak Conservancy is betrek by die Strandkuns wat 2 September 2023 by Suiderkruisstrand gehou is. Hulle het ’n stalletjie daar gehad en kon die geleentheid gebruik om mense in te lig oor wat hulle doen, die strande se skoonmaak op 16 September en geel sakke vir hierdie doel uit te deel. Dié geleentheid is oopgestel aan die skole op die dorp en Elzaan Harmse en sy broer, Eden, van Mosselbaai het die strandkuns kom doen. Hulle is self nog leerders en wonderlike geleenthede is vir hulle aangebied. Hulle het ook ’n goeie inkomste gegenereer die dag wat deels deur die Musefees geborg is. Laerskool Vorentoe is voor die geleentheid genader om strandkuns te maak en te kom uitstal, in samewerking met die kunsjuffrou. Op hierdie wyse is bemarking verskaf aan die skool in die Augustus-uitgawe van The Post, op die 7 000 programme en die Musefees se webblad en Facebook-blad.
  • Die Garden Route Botanical Gardens is ook genader om ’n stalletjie as deel van die Muse vir Mans te beman. Hulle het inheemse plante verkoop, mense kon lidmaatskapvorms invul en Christiaan Viljoen, die kurator van die Tuine, het voëlkyk-uitstappies gelei. Hy het Evan Bands, kranige jong voëlkyker van Groot-Brak, letterlik onder sy vlerk geneem deur kennis met hom te deel, hom aan voëlkykgroepe bekend te stel en deel van die uitstappies te maak. Christiaan het ook ’n praatjie gehou oor hoe om voëls na jou tuin te lok met inheemse plante. Alle inkomste hieruit is vir die Botaniese Tuine.

BEMAGTIGING VAN ONS JEUG WAS WEEREENS VIR ONS ’N PRIORITEIT:

  • Die Youth Café het Miss Youth Café aangebied, Fleur van Eeden Streicher het vir hulle meer oor “stunting” in die filmbedryf kom vertel en Fourie Ackermann het ’n muur met die hulp van die kinders by die Youth Café kom skilder.
  • Vier leerders van die Youth Café is by die Art Meander en Sculpture Park by Westbank Manor betrek met die doel om hulle bekend te stel aan die werkinge van ’n fees. ’n Sertifikaat is aan hulle uitgereik wat hulle by hul CV’s kan voeg.
  • ’n Geleentheid is gebied vir drie jong sangers om tydens die Musefees te “busk” om sodoende hul talente met die feesgangers te deel en in die proses ’n inkomste te genereer.
  • Die Suid-Kaap Kinderkoor het weer kom optree as deel van die Musefees se fokus om vir jongmense ’n platform te bied om op te tree.
  • Net so het die Outeniqua Jazz Band (’n groep van agt leerders) die kans gekry om saam met Petronel Baard op te tree as deel van die Golden Oldies-konsert.

Waar moontlik, het ons mense of organisasies tegemoetgekom om deelname te verseker:

  • Baie van die aanbiedings is gratis aan die publiek gebied – die Muse vir Mans, Tekstiel-uitstalling, die Art Meander en Sculpture Park, glaskuns- en keramiek-uitstallings, Miss Youth Cafe, die “stunt”-optredes deur Fleur van Eeden Streicher en die skilderwerk deur Fourie Ackermann.
  • Donasies is gemaak aan die Searle Memorial Church vir die gebruik van hul kerk en saal vir die Tekstielkuns-uitstalling en aan die NG Kerk vir die huur van die kerk en saal.

By ons as organiseerders is daar dus geen twyfel dat die Musefees die gemeenskap in die geheel bevoordeel nie. ’n Groot woord van dank aan die borge Mosselbaai Toerisme, MMO, Cool Ideas Fibre, Seeff en Drukkor in George wat van die fees se uitgawes gedek het. Hierdie jaar het die Musefees ook saam met iAmnotMany Marketing gewerk om meer sosiale media bewusmaking vir al die deelnemers te bewerkstellig.

Die Musefees skep die infrastruktuur en die geleentheid – dit staan individue dus vry om betrokke te raak by wyse van werkswinkels, uitstallings, ens. om die geleentheid aan te gryp, voorstelle te maak en ’n inkomste te genereer vir hul eie sak. In moeilike tye vir almal was dit goed om te sien hoe baie mense die waarde van die fees insien en entoesiasties saamwerk en daaroor deel. Kontak ons as julle in 2024 wil deelneem of sluit aan by Vriende van die Muse vir maandelikse nuus tot dan. #Musefees2023 – musefees.co.za