DIE SEISOEN VERANDER …

Eersdaags is dit September. “Dis heerlike lente die winter’s verby”, maar ons weet almal dat dit nie regtig waar is nie … van ons koudste dae volg na September.

Vir my is dit die gedagtegang van verandering wat in my kop begin afspeel en aangekondig word deur die vroeër lig word, die voëls buite my kamervenster wat voor dagbreek reeds nuusbrokkies uitdeel, energie  wat skuif, nuwe lewe wat teen die droë boomtakke groen begin afsteek, die walvisse met hul kleingoed wat uitbundig sterte waai en blaas in die groot, blou seewaters. Vroegoggend- en skemer-lentereuke wat die ruimtes vul, die behoefte om saailinge in elke moontlike blombak te plant en die tuinmeubels nuwe vernis of verflaag toe te dien. So sonder woorde weet ons iets is aan die verander.

Daar is al dikwels gedagtes uitgeruil oor die konstante van verandering. Oor tyd leer ek myself beter ken, soms wil ek dapper wees en aankondig selfs verstaan. Af en toe nog aan die voete sit van hulle wat wyser is en graag hul lewenswysheid deel sonder ego en beterweterigheid.

Die seisoen se verandering kondig vir elkeen van ons die geleentheid aan om onsself te herdefinieer, selfs miskien te posisioneer na ’n plek waar jy opnuut vrede vind in die gevoel van welgeluksalig wees in die hier en nou, ten spyte van. Omarm die lente, die winter is amper verby.