INSPIRASIE UIT THE POST!

By The Post is daar niks wat lekkerder is as om positiewe terugvoering te ontvang nie, maar as ons hoor dat iets in die koerant heel onverwags van ons lesers tot groter hoogtes geïnspireer het, is dit voorwaar die spreekwoordelike “kersie op die koek”.

Ek ontvang een Saterdagmiddag die volgende boodskap op WhatsApp: “So verloor my Sweetie die weddenskap oor wie van Nadal/Djokovic gaan wen en moet hy vir my blomme bring. Kom toe by die huis aan met pragtige bos proteas en seg hy hy het die blomme op The Post se voorblad gesien. Nou ja, stadsjapie se sterk punt is nie kennis van blomme nie, maar baie dankie vir die blom-inspirasie!”

Maande later kry ons ’n versoek vir die foto van dieselfde voorblad – hierdie keer om plekmatjies vir iemand te laat druk (die foto’s is kopieregvry). Die ontvangs van die foto is met soveel vreugde en waardering begroet dat dit ons diep geraak het.

Net so wonderlik was die terugvoering deur Ina Meyer, befaamde kwiltkunstenaar van Glentana, wat ’n foto deur Leon Roodt wat toevallig ook in dieselfde uitgawe van The Post verskyn het, in ’n pragtige kwiltwerk omskep het.

Dít is, onder andere, wat ons aanspoor om maandeliks The Post die lig te laat sien!