OP PAD MET SOPHY GRAY – EERSTE VROULIKE ARGITEK IN SA

Tydens ’n onlangse wegbreek bevind ek myself in “St. John in the Wildernis”, ’n klipkerkie op Louvain-vakansieplaas in die Bo-Langkloof. En net daar word ek bewus van die formidabele Sophy Gray (1814-1871), een van die eerste vroue wat argitekswerk in Suid-Afrika gedoen het.

In ’n tyd toe vroue-argitekte ’n vreemde fenomeen was, was Sophy betrokke by die ontwerp van sowat 40 Anglikaanse kerke in Suid-Afrika. ’n Merkwaardige prestasie in ’n tyd voordat goud in 1886 aan die Witwatersrand ontdek en industrialisasie en vervoernetwerke deel van die Suid-Afrikaanse ekonomiese landskap was.

Sophy was die vrou van Robert Gray, die eerste biskop van die Anglikaanse Kerk in Kaapstad. Die egpaar het op 20 Februarie 1848 van Engeland in die Kaap aangekom. Sophy en die biskop het hulle gevestig op die plaas Boscheuvel, vandag beter bekend as Bishopscourt. Van daar het Sophy en Robert uitgebreide reise tot so ver as Natal onderneem. Wat merkwaardig is, is dat hierdie ma van vyf heelwat van hierdie reise te perd afgelê het. Sophy het haar reise in potlood- en inksketse en waterverfwerke gedokumenteer – haar sketsboeke van 12 x 22 cm was altyd byderhand. Sy skets plekke soos Knysna, Karkloof, die Durbanse hawe en Berea, wat sy in die tydperk tussen 1863 en 1867 besoek het. Dié sketsboek, asook 48 los sketse van 1855-1859, is in die St. George- katedraal in Kaapstad gevind.

Biskop Gray se algemene opdrag van Engeland was om die Anglikaanse Kerk uit te brei en om ’n kerkbouprogram te implementeer. By hul aankoms in die Kaap was daar volgens bronne slegs 14 Anglikaanse predikante in die Kaap. Oor ’n tydperk van 25 jaar, tussen 1849 en 1880, het Robert gesorg dat daar 50 kerke opgerig is waarvan sowat 40 kerke (sommige bronne beweer minder en ander meer) deur Sophy ontwerp is.

Sy was proaktief en het saam met hul huisraad ook boeke met sketsplanne vir kerke in die neo-Gotiese styl saamgebring na Suid Afrika. Sy was veral bekend met die werk van die bekende Engelse argitek, Thomas Rickman, en het ook met ene W. Butterfield, ’n argitek in kerklike ontwerp, gekorrespondeer. Teen 1861 het sy byvoorbeeld 21 verskillende bouprojekte in verskillende gemeentes hier bestuur. Sy was ook haar man se boekhoudster en sekretaresse.

Hoewel Sophy gepoog het om die geboue te ontwerp, het sy soms aan tegniese vaardighede ontbreek. Gelukkig het sy dan die bystand van ’n siviele ingenieur, ene G. Evans, gehad wat haar sketsplanne in uitvoerbare werksplanne omskep het. ’n Span Skotse masons is ingevoer om te help met die kerkbouprogram.

 

Die plaaslike boumateriale, klip en rots wat destyds vir die kerke gebruik is, gee vandag nog ’n tydlose, gestroopte elegansie aan Sophy Gray se kerke. Kerke wat sy in ons omgewing ontwerp het, sluit in St. Mark’s Anglican Church in George, St. Jude’s in Oudtshoorn en die St. George’s in Knysna.

FOTO: Hoewel die oorspronklike St. John’s by Louvain op 15 Desember 1982 grootliks deur ’n brand verwoes is, is die huidige kerkie ’n waardige opvolger van die oorspronklike Sophy Gray-kerk wat deesdae vir troues daar gebruik word.