’N KYKIE NA KLEUR DEUR ’N CHINESE LENS
My “stiefpa” (by gebrek aan ’n beter woord) is onlangs oorlede. ’n Kreatiewe en vaardige man wat in 1972 vanaf Duitsland hier ter plaatse geland het. Hy het soveel uniekhede, kunsskatte en ’n magdom kuns-naslaanbronne saamgebring, dat daar geen plek vir ekstra klere was nie. My vorige artikels is bykans alles nagevors uit boeke wat ek van hom gekry het. In ’n huldeblyk aan sy lewenslange nuuskierigheid oor argeologie, antieke geskiedenis en kuns in die breë, dra ek hierdie artikel aan hom op.
In die Chinese geskiedenis het elke kleurvariasie ’n spesiale naam wat dit meestal in terme van die natuur omskryf (soos die kleur van appelkose, mis, blomme …). Ons gaan egter net op hulle vyf primêre kleure, gebaseer op die teorie van Yin-Yang (donker/lig, positief/negatief), sowel as die vyf Elemente, fokus.
Die Chinese inkswart (Xuan Se) verteenwoordig die water-element soos dit in die diepste, donkerste en koue water beleef word. Dit was net vir die gebruik van koninklikes en die keiser se seremoniële drag vir belangrike geleenthede. Dit was ook die kleur van die mitologiese “Swart Skilpad” wat die noordelike gedeelte van die hemel beskerm. Hulle het geglo dat hierdie mitologiese skilpad vrae kon antwoord deur met die voorgeslagte te kommunikeer.
Suiwer wit (Chun Bai) verteenwoordig die metaal-element. Dit was die kleur vir oorlog, herfs en die dood, asook die kleur van die mitologiese “Wit Tier”, wat die westelike gedeelte van die hemel beskerm het. Vanaf antieke tye word net wit tydens begrafnisse gedra.
Heldergeel (Ming Huang) verteenwoordig die grond-element en die mitologiese draak “Ying Long” wat die middelste gedeelte van die hemel beskerm het. Daar was ook geglo dat hierdie draak keisers in oorloë bygestaan het deur monsters te verslaan. Dié kleur kon ook net deur koninklikes en lede van die Tao- en Boeddhistiese geloof gedra word (heldergeel is eers in 1912 toegelaat vir die gewone gemeenskap).
Vermiljoen-rooi (Zhusha Hong) verteenwoordig die vuur-element. Dit was die kleur van die mitologiese rooi voël “Zhu Que”, wat die suidelike gedeelte van die hemel beskerm het en gestorwe siele na die hemel kon vergesel. Van die begin van tye is hierdie kleur ’n baie positiewe kleur wat byvoorbeeld passie, geluk en voorspoed verteenwoordig het. Rooi is ook die kleur vir feestelike geleenthede waar selfs geldgeskenke, wat baie gewild is, altyd in ’n rooi koevert moet wees (’n wit koevert word vir begrafnisse gebruik).
Sianotiese blou (Qing Se) was die kleur van die mitologiese “Cyan”-draak wat die oostelike gedeelte van die hemel beskerm het en die hout-element verteenwoordig. Hierdie draak het vir hoop en lente gestaan.
’n Interessante feit was die gebruik van die nie-primêre kleur groen, waar ’n groen kopdoek in antieke tye byvoorbeeld aangedui het dat ’n persoon ’n misdaad gepleeg het. Later moes prostitute ook groen dra (selfs vandag dui ’n groen hoed daarop dat ’n persoon se wederhelf ontrou was).
In antieke tye is die misbruik van kleur swaar gestraf. Gelukkig is ons hier in sonnige Suid-Afrika deel van die “Reënboognasie” en kan ons kleurvol lyk, leef en wees.
J. P. Walter – RIP