Internasionale Wikkel-jou-tone-dag…

en ander interessante dae wat in Augustus gevier word.

1 Augustus – Internasionale Mahjongdag

Mahjong is ‘n teëlspeletjie wat in China in die middel 1800s ontwikkel is. Dis ‘n spel van vaardigheid, strategie en berekening, en ook ‘n bietjie geluk. Daar is 144 teëls gebaseer op Chinese karakters en simbole. Die woord “mahjong” beteken mossie, en die speletjie is so genoem, omdat die klank van teëls wanneer die geskommel word soos die getjilp van mossies klink.

6 Augustus – Internasionale Wikkel-jou-tone-dag

Om jou tone te wikkel het meestal die betekenis van gelukkig wees, soos wanneer ons in vakansietye die kans kry om ons skoene uit te skop en ons tone in die sand te wikkel. Dis goed vir jou gesondheid om jou tone te wikkel, want as jou skoene te klein is kan dit lei tot heelparty kwale.

13 Augustus – Internasionale Linkshandige dag

In 1992 het die klub vir Linkshandiges in die VSA besluit om jaarliks bewustheid van die voor- en nadele van links-handigheid te bevorder.  Het jy geweet daar is iets soos sinistrofobie? Dis die vrees vir linkshandige mense en dinge aan die linkerkant!

20 Augustus – Wêreld Muskietdag

Dis wanneer Dr. Ronald Ross se ontdekking van die malaria parasiet wêreldwyd gevier word. Op hierdie dag in 1897 het hy die teenwoordigheid van die malaria parasiet in die ingewande van vroulike Anopheles muskiete bevestig.

Interessante feite oor akkedisse

  • Wêreld Akkedisdag word jaarliks op 14 Augustus gevier.
  • Daar is meer as 6 000 akkedissoorte in die wêreld.
  • Hulle kom op al die kontinente behalwe Antarktika voor.
  • Die Komodo draak is die grootste akkedis op aarde en kan tot 3 meter lank word.
  • Die kleinste akkedis is die Jaragua dwergakkedis wat net 1,6cm lank word.
  • Geitjies is die enigste akkedissoort wat geluide kan maak, en soms klink dit self asof hulle “blaf”.
  • Herpetofobie is ‘n vrees vir reptiele, soos akkedisse.