MAART 2024 UITGAWE NOU BESKIKBAAR REG OOR TUINROETE
THE POST se gedrukte uitgawe vir Maart 2024 is van Vrydag, 1 Maart, beskikbaar by ons gereelde verspreidingspunte.
Ons voorbladfoto die maand is van die internasionaal bekende Switserse kunstenaar Ugo Rondinone se “Seven Magic Mountains”, ’n reuse- plekspesifieke openbare kunsinstallasie naby die Jean Dry-meer, ongeveer 20 km van Las Vegas, in Nevada, in die VSA. Dié foto is geneem deur Samuel Branch en op Unsplash beskikbaar gestel.
Jy kan onder meer in die uitgawe meer lees oor die geologiese en argeologiese wonders wat in die Groot-Brakrivier te vinde is soos die rotswande aan die oostelike kant, ’n nuwe universiteit vir afgetredenes, wat om te doen as jou huis ’n nasionale gedenkwaardigheid is, bekende beeldhouer Anton Smit se beelde wat in Groot-Brakrivier opgeknap is, gewilde staproetes in die Tuinroete en die vestiging van ’n Groot-Brakrivier Roeiklub.
Die plaaslike digter Lluyle Arendse skryf vir ons oor Greenhaven se presteerders en jy kan ook alles uitvind oor die jaarlikse GB Walk, 5 km se stap, wat jy dié jaar saam met jou viervoetige vriende kan meemaak en ’n troeteldierkos-donasie aan Caws 4 Paws kan doen. Dié gewilde geleentheid word deur Grootbrak Apteek, Coolideas en Croft Veeartse geborg.