ONTMOET JOU MUSE!
Met die Augustuswind wat ruk en pluk aan my rok se pante is ek maar bly dat hoed en sambreel nie deel gevorm het van my uitrusting nie. Tog is die Augustuswinde die voorloper van die lentereën – buig en wieg dus eerder soos ’n jong struik saam met die wind in afwagting van hierdie welkome beloning.
Die lentereënboog spreek die seën uit oor die nuwe seisoen, die sonstrale sprei vroeër oor die horison, affodille, ranonkels en pronkertjies begin plek-plek hul koppe uitsteek en die walvisse met hul nuwelinge verraai boggelrug hul aankoms in die wye see. Die lente verklee nie alleen die natuur in ’n mantel van kleure en geure nie, maar kan ook die wintergemoed lig.
Die Musefees wat in September in Groot-Brakrivier aangebied word, onderstreep hierdie tema van kleur en geur op allerlei kreatiewe vlakke. Die September-uitgawe word dus grootliks toegewy aan die kreatiewe platform wat die Musefees skep sodat elkeen sy eie muse kan ontdek of herontdek. In samewerking met die borge, die Uitvoerende Burgemeester, Dirk Kotze, kunstenaars en entrepreneurs sal die Musefees feesgangers se sintuie prikkel en ’n bydrae lewer tot ’n kreatiewe metamorfose vir elkeen wat die geleentheid bywoon. Moenie hierdie kans om jou muse te ontmoet verby laat gaan nie!
Almond Blossoms, Van Gogh (1890)