TELENOVELAS VS GESKIEDENIS

My ma, ’n groot aanhanger van telenovelas (televisiedramas of sepies), vertel my gereeld van die “ongelooflike” intriges daarvan. Vir my is geskiedenis egter waar die ongelooflikste intriges lê.

’n Mens kan na ons eie geskiedenis kyk, hoewel dit ’n bietjie van ’n warm patat is. Die Engelse koninklike huis soos dit vandag staan, met koning Charles, die ontslape prinses Diana en hulle twee seuns, William en Harry, se doen en late – dáár is nou ’n storie. Dit is ook te vars om nou al te vertel, so kom ek gee eerder ’n verskriklik verkorte oorsig van ’n ander bekende Engelse Koning, Henry VIII.

Henry VII en sy vrou Elizabeth van York se oudste seun, prins Arthur (Prins van Wallis), is die troonopvolger. As 11-jarige word hy verloof aan Catherine van Aragon van Spanje (om alliansie tussen die twee lande te bewerkstellig). Net ses maande na sy troue op 15 is hy oorlede. As die tweede oudste seun (nou Prins van Wallis), word Henry op 11, slegs twee dae na Arthur se dood, formeel verloof aan sy weduwee Catherine. Hy word op 17 amptelik koning.

Dit is bekend dat Henry VIII baie lief was vir vroue en talle buite-egtelike kinders gehad het. Soos wat dit in daardie tye aanvaar was, kon hy ongeduldig word omdat Catherine nie ’n manlike troonopvolger voortgebring het nie (hulle het wel ’n dogter, prinses Mary). Daar was drie opsies. Hy kan sy buite-egtelike seun wetlik verklaar; of sy dogter Mary (toe nog ’n jong kind), in die eg verbind met die hoop dat sy ’n seun het; of hy as 34-jarige moet op die een of ander manier sy troue met die 40-jarige Catherine laat ontbind. Ongelukkig vir Henry wou die Pous nie instem nie en jare van oorloë, religieuse spanning, alliansies en meer sou volg …

Op 41-jarige ouderdom trou Henry in die geheim met die 25-jarige Anne Boleyn. Sy word blitsig swanger en gee geboorte aan nog ’n dogter – prinses Elizabeth. ’n Sitting in ’n “spesiale” hof ontbind Henry se eerste huwelik, maar Anne kon egter ook nie ’n manlike opvolger lewer nie. Vier jaar later is sy onthoof op grond van (ongegronde) aanklagtes van buite-egtelike verhoudings en verraad.

’n Dag na Anne se teregstelling word die 45-jarige Henry verloof aan Jane Seymour en hulle trou 10 dae later. Jane gee geboorte aan ’n seun, Prins Edward, maar sterf tydens die bevalling. Na weereens vele politieke, militêre en religieuse strategiese oorwegings en op aanbeveling van Cromwell, een van sy adviseurs, trou die 49-jarige koning met die 25-jarige Anne van Cleves. Elf maande later doen Henry aansoek dat die huwelik ontbind moet word en Cromwell word aangekla (en skuldig bevind) aan onder meer verraad.

Op die dag van Cromwell se onthoofding, trou Henry met die 17-jarige Catherine Howard. Die jonge Catherine het twee buite-egtelike verhoudings. Dié twee manne, tesame met Catherine, word twee jaar na die troue onthoof. ’n Jaar later trou Henry met sy sesde en laaste vrou, ’n welgestelde weduwee, Catherine Parr. Na nog vele intriges, sterf Henry VIII op 55-jarige ouderdom.

Sy 9-jarige seun by Jane Seymour, Edward VI, word die eerste protestante koning, maar sterf op 15 sonder ’n opvolger. ’n Verlangse niggie, Lady Jane Grey, word sy opvolger vir ’n volle nege dae, waarna sy oudste suster, Mary, die eerste koningin ooit word. Drie jaar later sterf Mary en haar halfsuster (Anne Boleyn se dogter) word die protestante Koningin Elizabeth I. Sy sterf jare later sonder ’n opvolger, en die saga gaan aan …

Telenovelas? Nee, ek stem enige dag vir geskiedenis!